Tygerberg Baptiste Kerk

'n Veilige Hawe vir die Siel

‘n Oudmodiese of Mens-Gesentreerde Kerk?

Tuisblad/Publikasies/Die Kerk

deur David Moss


In die vroeë 1970's het 'n jong man en sy drie vriende met 'n deur-tot-deur-opname in ‘n sekere deel van Amerika probeer uitvind wat mense graag in 'n kerk wil hê. Met die informasie wat hulle opname geproduseer het, het hulle ‘n kerk gestig met die doel om die verwagtinge van nie-kerkgaande mense tevrede te stel. Dit was die begin van 'n dramatiese verandering in die manier waarop kerke en predikante na hul gemeenskappe begin kyk het.

'n Nuwerwetse teater-atmosfeer het kerkdienste verander, en die kom-soos-jy-is-benadering het dit meer soos ‘n verskeidenheids-konsert op televisie laat voel. Dit is noodsaaklik, so beweer hulle, omdat die tradisionele vorme van aanbidding (kerkdienste) vervelig en voorspelbaar geraak het en gevolglik is mense nie meer geïnteresseerd nie.

Die fout met hierdie benadering tot die bediening, is dat kerkdienste, gedryf en beïnvloed word deur die verwagtinge en ervaringe van mense wat buite die kerk staan. Die aanbiedingsvorm, sê hulle, moet die aspekte van die alledaagse kulturele ervaring wat mense het insluit, sodat die geestelike boodskap relevant en verstaanbaar kan wees tot die tipe lewens wat mense leef.

Voorstanders van hierdie benadering tot die bediening moet hulleself egter afvra: Watter bestaansreg het kerkdienste wat ‘n wêreldse styl van navolg? Is die kerk nie juis veronderstel om eerder 'n plek te wees wat in skrille kontras teenoor die wêreldling se verwagting staan en 'n skuilplek bied teen alles wat verkeerd is nie? In plaas daarvan word dit met hierdie benadering 'n plek waar elke persoon wat dit bywoon iets daarin moet kan vind wat ooreenstem met sy eie persoonlike lewenservaring in die wêreld.

1. Die Kulturele Evangelie

Eers het die kerk verander van ‘n  lighuis vir verlore siele na 'n sopkombuis vir honger mae. Nou, in die 21-ste eeu, preek die kerk ‘n Kulturele Evangelie. In plaas daarvan dat die kerk 'n oase vir die geestelik-desperate persoon is, is die Kerk besig om 'n teater van kulturele ervaring en relevansie te word.

Tradisionele vorms van kerkdienste sterf uit soos die dinosourusse van ouds. 'n Atmosfeer van eervolle gewydheid is aan die uitsterf. Mense wat kerkdienste met eervolle verwagting bywoon en beklee is met respek vir die geleentheid, word as argaïes en outyds bestempel, so asof daar iets fout is met dit wat uit die goeie ou dae kom.

Om dienste te hou wat ooreenstem met mense se daaglikse ervaring, is die nuwe, populêre manier van dink en word aanbeveel deur die nuwe generasie leierskap. Populêre opinie vereis vandag dat 'n Christelike boodskap aangebied moet word wat vriendelik is en erkenning gee aan die kultuur. Hoe meer verskille daar in die mense van die gemeenskap is, hoe meer sal die aanbidding moet aanpas daarby. Kerkdienste moet dinge insluit wat elke deeltjie van die samelewing bereik. Dinge soos die  jonger “Generasie X”, enkellopendes, etnisiteit en 'n oneindige lys van ander spesiale belangegroepe word met hierdie benadering teikens in die gemeenskap wat met ‘n nuwe innoverende strategie benader moet word. Kerkdiens aktiwiteite word ontwikkel met groot sensitiwiteit ten opsigte van al die tipes soekende mense wat aangemoedig word om die nuut-opgeknapte geboue van die Kerk mag binnekom.

Daar is 'n baie eenvoudige verklaring vir hierdie verskynsel. Die Kerk wat eens op die Woord van God gefokus het, het hulle aandag verskuif na selfverwesenliking.

2. Ware Aanbidding

Tradisionele vorms van aanbidding word afgeskaf as gevolg van onkunde oor hulle oorsprong. Multikulturalisme as ‘n beweging, het begin sê dat die Europese kultuur onderdrukkend en chauvinisties is en die vrye uitdrukking van ander kulture onderdruk. Die oorgang na Christendom, so beweer hulle, het veroorsaak dat die tradisionele vorme van aanbidding te beperkend geraak het, want dit kom uit die Europese kultuurgeskiedenis. Die gevolgtrekking is dat die verouderde style vervang moet word met vorme van aanbidding wat meer kultuursensitief en inklusief is. Die feit is egter dat die tradisionele vorme van aanbidding nie werklik uit enige kultuur gekom het nie. Dit is maar net per toeval dat dit uit 'n Europese kulturele konteks ontwikkel het.

Tradisionele vorme van aanbidding is eintlik gebaseer op 'n stel oortuigings wat regdeur die Woord van God erken word. (1.) God is heilig. (2.) Diegene wat God nader, moet dit doen op 'n wyse wat erkenning verleen aan sy heiligheid. (3.) Dit vereis eerbied, respek, orde, stigting en 'n dekorum tot eer van die posisie van Goddelikheid. (4.) Aanbidding is die daad waar die sondaar sy God nader vir redding of hulp. (5.) Daarom is aanbidding 'n heilige aktiwiteit waaraan die mens deelneem nadat hy homself voorberei het en reg ingestel het vir die geleentheid.

Die doel van kerkdiens is om mense uit hulle kulturele konteks te laat kom om op ‘n eenvormige en geestelike manier die Almagtige te nader. Ons kultuur is dus irrelevant in ons aanbidding, omdat ons aanbidding niks te doen het met wie of wat ons as mens is nie, maar wel alles te doen het met wie en wat God is. Die doel van die kerkdiens is nie om die mens te help om homself te vind nie, maar om hom te help om God te vind.

a) Respek
Respek is essensieel in aanbidding. Ons wys respek deur ons gesindheid, ons liggaamshouding en ons voorkoms.
'n Mens moet 'n kerkdiens rustig en oordenkend ingaan. Ons doen dit egter nie omdat die gebou 'n heilige plek is soos wat die Ou Testamentiese tempel was nie, maar omdat die byeenkoms van die gelowiges vir die doel van aanbidding ‘n besonderse en afgesonderde geleentheid is.

'n Mens moet ook toepaslik aantrek vir so ‘n belangrike gebeurtenis. Kleredrag kommunikeer ons gesindheid en ingesteldheid teenoor dit wat ons beplan om te doen. In die sekulêre wêreld sal mense aantrek om by die geleentheid te pas.

Besigheidsmanne dra ‘n pak of ‘n das en baadjie om te pas by ‘n formele geleentheid, vroue dra formele aanddrag na funksies toe, en tieners huur formele drag vir die gradeplegtighede. Die uitnodiging om kerk by te woon is die heiligste aktiwiteit denkbaar, maar dan is sommige geklee in klere wat eintlik meer geskik is vir ‘n informele Saterdagoggend by die huis.

b) Eerbied

Eerbied is nog 'n hoofsaak van aanbidding. Ons wys dit deur ons gedrag.

‘n Erediens moet gekenmerk word deur aktiwiteite wat aan die Here God, ons Hemelse Vader, wys dat ons verstaan en erkenning gee aan wie Hy is. ‘n Mens se lewenswandel van aanbidding moet 'n eerbiedigheid kommunikeer wat wys dat ons die belangrikheid van die Persoon aan wie die offers van lof gemaak word, erken.

Om onsself te vermaak, behoort die laaste ding op ons agenda te wees in 'n erediens. Sensuele musiek en beweging van die liggaam, sowel as uitbundige applous het baie waarde in die uitlewing van die “self”, maar absoluut geen waarde in verering van 'n heilige en gewyde God nie. Hierdie dinge is totaal mensgesentreerde aktiwiteite en word deur die wêreld gebruik om uiting aan hulle gevoelens te gee gedurende musiekkonserte. In ons aanbidding moet ons egter met ons hele wese gefokus wees op die Here God.

3. ‘n Outydse Kerk

Daar is 'n groot hoeveelheid druk op die plaaslike gemeentes om te voldoen aan die nuwe style van aanbidding. Nie net is die kerk se dienste in kompetisie met die sekulêre vermaaklikheidswêreld nie, maar kerke is ook in kompetisie met mekaar om die mees effektiewe aantrekkingskrag te skep om 'n veeleisende gemeenskap te bereik wat na selfverwesenliking streef.

Ten spyte hiervan is daar in elke gemeenskap steeds plaaslike gemeentes wat hierdie wêreldse vloedgolf weerstaan en ‘n “outydse” styl van aanbidding volg. So ‘n gemeente wil 'n oase bly vir diegene wat deur die oppervlakkigheid van mensgesentreerde aanbidding afgesit word. Hierdie gemeentes bly steeds 'n gewyde ontmoetingsplek vir gelowiges wat glo hulle is uit die wêreld geroep om heilig te wees. Hulle verlang om die ware God te erken in ‘n kerkdiens wat nie gehoor gee aan kulturele ervaring nie, maar gehoorsaam is aan die Woord. Hierdie gemeentes is 'n toevlugsoord vir diegene wat gered wil word en rus wil vind in alles wat Goddelik is, in plaas daarvan om vermaak te word deur alles wat menslik is. Daardie gemeentes is 'n rustige plek van aanbidding en Bybelse lering, waar ‘n siel, saam met ander moeë pelgrims, in die waarheid rus kan vind en kan ontsnap van die ontstellende geluide van 'n verwarde en onordelike wêreld.

4. Ten Slotte

Dit klink dalk of ons benadering uit voeling is met die hedendaagse tendens. Dit is! Dit is doelbewus uit voeling met die wysheid wat nie van bo kom nie, maar wat aards is, natuurlik, en duiwels (Jak. 3:15)!

Dit is wel in voeling met die wysheid wat van bo kom. Sulke wysheid is ten eerste, en bo alle dinge, suiwer. Dit is slegs met hierdie wysheid van God se genade dat die Kerk God kan aanbid op ‘n manier wat werklik aanvaarbaar is vir Hom.

Toepassing: Die mense van elke plaaslike gemeente staar hierdie besluit in die gesig: sal hulle toegee aan die eise van 'n groep mense wat meer liefhebbers van genot is as liefhebbers van God (2 Tim. 3:4)? Of sal hulle op die regte weg bly wandel, deur respek en eerbied in hul kerkdienste te behou, en eerste te dink wat vir God aanvaarbaar is en laaste sal dink aan hulleself? Sal hulle kerkdienste ‘n moderne innovering wees, met 'n mensgesentreerde prioriteit, of sal hulle eerder 'n outydse kerk wees met ‘n eenvoudige doel en benadering tot God, op God se manier, en nie hulle eie nie?

Gepubliseer deur Goeie Hoop Publikasies.

e-pos ons by navrae@tbg.org.za vir verdere navrae.


 

Dienstye:

Sondae

10h15 - Oggenddiens

18h00 - Groeigroepe


Woensdae

19h00 - Aanddiens


Vrydae

Jeug en kinderpret elke 2de Vrydagaand (sien kalender)

Vinnige Webskakels